Jong boere kom in beweging
In nog ‘n welkome gebeure in die reeks verwikkelinge wat daarop dui dat ons volk in verset kom na sestien jaar onderdrukking, is die feit dat die boere van more, die jong boere, ook hulle stem begin dik maak en wel op so ‘n wyse dat die wêreld dit nie kan ignoreer nie.
Dié naweek het die jongboere van TLU SA ‘n byeenkoms gehou by Fort Schanskop om die moord op sowat twee duisend boere sedert die ANC die bewind in 1994 oorgeneem het, te herdenk, maar hulle het terselfdertyd ‘n besliste boodskap uitgestuur dat hulle nie met dié toestand van sake gediend is nie.
Die boodskap is aan die regering gerig dat die jong boere, net soos hulle vaders en grootvaders, wil boer met die uitsluitlike doel om vir die land voedsel en vesel te produseer, en daardeur ook vir hulleself ‘n rustige en menswaardige bestaan te maak. Die veiligheidsituasie in die land, en veral op die plase, is egter van so ‘n aard dat dit nie meer moontlik is nie. Boere moet al byna meer investeer in beveiligingsmeganismes, as aan saad en mis om ‘n oes in die grond te kry, ja, sodat selfs die plaasmoordenaars ook kan eet!
Hartroerende verhale het by die byeenkoms uitgekom van mense wie se lewens onherroeplik verander is sedert ‘n plaasaanval waartydens mense vermoor is. Normale bedrywighede is ontwrig, plase word verkoop, plaaswerkers verloor hulle werk. In gevalle waar plase wel weer aan die gang kom, neem dit tot agt jaar voordat sake sodanig na normaal terugkeer dat die plaas weer op volle produksie kom. En dan nog is die vraag: is dit werklik ‘n terugkeer na ‘n normale toestand as daar ‘n entjie van die opstal af in die familiebegraafplaas ‘n vars graf lê van die boer wat in die fleur van sy lewe op die mees gruwelike wyse afgemaai is, of die boervrou, wat as moeder nie die vreugde kan sien van kinders wat opgroei, of selfs kleinkinders nie? Kan daar ooit werklik na ‘n normale toestand teruggekeer word?
Dit is van die sake wat die jongboere op treffende wyse aan die wêreld geopenbaar het, en waarvoor hulle ooglopend baie simpatie gekry het, ook by plaaslike en internasionale media wat daar verteenwoordig was.
Daarmee saam is dit ook so dat die optrede van die polisie tydens en na plaasaanvalle, dikwels veel te wense oorlaat, met stadige of geen reaksiemagte om te kom help, en ondersoek wat daarna alles behalwe op standaard is en waar selfs van privaat ondersoekers gebruik gemaak word om sake op te los waarmee die polisie nie kan vorder nie. Aan die ander kant het die polisie wel tyd en mannekrag om boere se lewe te versuur as hulle met hulle groenligpatrollies hulleself wil beskerm.
Die jongboere wil geen spesiale voorregte of vergunnings hê nie. Hulle wil ook net boer. Maar hulle sien dat die plaasmoorde toeneem. Vandag se nuus maak weer van twee moorde die naweek melding. Hoeveel petisies is al aan die regering oorhandig? Hoeveel witkruise is al geplant, langs paaie, selfs op die Uniegebou se grasperk? Maar plaasmoorde gaan voort. Tans word die byna weerlose ouer boere geteiken. Maar die jongboere is volgende as dit so aangaan. Watse hoop het hulle op ‘n toekoms as dit so aangaan?
Dit sal die regering baat om na die jongboere te luister en iets aan die saak te doen. Hulle kan nie meer vir apartheid verantwoordelik gehou word nie. Hulle produseer darem nog kos, in teenstelling met ongeveer die helfte van die regerings se grondhervormingsboere wat niks produseer nie. Die jongboere is saam met die ander Afrikanerjeug, heerlik sat vir ‘n land sonder loopbaanverwagtings omdat hulle aan die verkeerde ras behoort in terme van regeringsbeleid. As dit hulle lewe boonop bedreig, gaan daar een of ander tyd ‘n teenreaksie wees.
En die jongboere sien nie op teen burokratiese prosesse om ‘n wettige vuurwapen te bekom nie. Hy het dit nodig, want ‘n wapen is deel van die plaasgereedskap. Dan kan Cosatu nog hoe hard skree dat die skiet van misdadigers rassisme is, maar die boere glo al lank dat die moorde op hulle deel is van ‘n etniese uitwissingsveldtog wat deeglik beplan is. In feite is die situasie op die platteland een van beleg, waar ‘n oorlog gevoer word. Jong boere is ooglopend nie bereid om maklike teikens te word ter wille van kwalik bedekte intimidasie ter wille van die politieke agenda van die ANC-bewind nie.

Stuur hierdie kommentaar aan 'n vriend
___________________________________________________________________________________________ |