Pasop vir naïwiteit
Verlede week het die ANC-president, Jacob Zuma, vyf en twintig Afrikaanse persone genooi na ‘n private dinee by sy ampswoning in Pretoria. Opmerklik, tog enigsins verbasend, het daar een of ander vorm van ‘n sluier oor die geleentheid gesak, aangesien daar skynbaar ooreengekom is dat daar nie met die media gepraat gaan word nie.
Derhalwe kan ons nie werklik ‘n mening uitspreek oor wat daar gebeur het nie. Ons is egter wel ongemaklik oor so ‘n vertroulikheidsreëling wat laat dink aan die eerste gesprekke met die ANC toe dit nog ‘n verbode terroriste-organisasie was, en ons weet almal wat was die uiteinde daarvan. Die mense wat daar was, alhoewel skynbaar in persoonlike hoedanigheid genooi, is tog op een of ander manier verteenwoordigers van organisasies, en in daardie hoedanigheid behoort hulle tog te kan terugvoer gee aan die organisasies. Organisasies bestaan uit lede, wat in baie gevalle betaal vir die voorreg om lid te kan wees, en tog seker in ruil vir hulle geld wil weet waarmee hulle organisasie besig is.
Histories gesien het geslote-deur gesprekke, en ook geslote deur organisasies, uiteindelik nie veel goeds opgelewer nie, en argwaan teen sodanige gesprekke en organisasies is dus begryplik.
Tog kom daar wel so hier en daar bepaalde sake na vore wat tydens die gesprek met Zuma geopper is. Helaas wil dit voorkom of daar weer eens moeite gedoen is om ‘n verdeelde front voor te hou, en die ou, nou al hinderlike en onnatuurlike Boer/Afrikaner-debat moes ook weer daar ingevoer word, al was dit slegs by wyse van ‘n opmerking. As daar dan met die vyand gepraat móét word, kan tog seker ter wille van daardie oefening ‘n enkele front voorgehou word, of word Zuma by sommiges nie meer as deel van die vyand gesien nie?
Dié mense wat wel bereid was om die sluier oor die gesprek so effens te lig, het dit byna hinderlik beklemtoon dat hulle die gesprek positief ervaar het. Ons vra egter die vraag hoe positief ‘n gesprek kan wees met ‘n man wat in sy persoonlike hoedanigheid deur situasies gerol het en sy posisie bereik het, juis omdat die eerlikheid van sy woord, wat al dikwels in twyfel getrek is, nog nooit werklik getoets is nie? Hoe positief kan ‘n gesprek wees met ‘n man wat hoof is van ‘n organisasie wat homself bewys as ‘n absolute vyand van die Boerevolk, en van die blanke as geheel? Hoe positief kan ‘n gesprek wees in ‘n situasie waar daar ‘n geestelike en fisieke oorlog teen ons mense gevoer word?
Die onbetroubaarheid van die gespreksgenoot kon dalk nog nie op daardie stadium bekend gewees het nie, maar deur enigiemand met politieke insig wel voorsien gewees het. Terwyl die rassistiese en opruiende uitsprake van Julius Malema daar ter tafel gelê is, en Zuma vaagweg te kenne gegee het dat die ANC nie sodanige uitsprake kan goedpraat nie, en dat dit die naweek op ‘n uitvoerende komitee-vergadering bespreek sal word, het hy wat Zuma is wel geweet wat hy tevore aan die koerant, Mail & Guardian gesê het. Teenoor dié koerant het hy Malema in wese verdedig, en gesê dat om sy mond te snoer, sou beteken om terug te keer na die ou bedeling waarin mense nie kon sê wat hulle wou nie. Daardie onderhoud het Zuma reeds met die koerant gevoer, maar teenoor die Afrikaners gee hy iets anders te kenne. Hy speel dus duidelik vir sy gehoor: vir die een sê hy so en vir die ander weer anders. Sommige kenners van die volkekunde sê dat dit in sy kultuur aanvaarbaar is om vir verskillende groepe teenoorgestelde dinge te sê, en blykbaar word dit dan nie as leuens beskou nie.
In terme van ons kultuur en opvatting, kom sodanige optrede neer op leuens en bedrog. Dit maak enige optrede en beplanning as dit kom by gesprek met die owerheid feitlik onmoontlik. Dit dui voorts op diepliggende kultuurverskille wat nooit in ‘n enkele staat en gemeenskap versoenbaar sal wees nie.
Die noodsaaklik van eendragtige en eensgesinde optrede, is weer eens bewys. Ons skiet net met ‘n haelgeweer vol donsies as elkeen net sy eie sakie wil aanroer. As ons geledere kan sluit en strategies kan beplan, kan ons dalk meer bereik deur ‘n forum soos die Afrikanerfront of dergelike, deur gefokus te teiken met swaargeskut.
Intussen moet ons maar versigtig wees om ons naïef te laat mislei deur ‘n ete, vriendelike glimlag en ‘n grappie hier en daar.

Stuur hierdie kommentaar aan 'n vriend
___________________________________________________________________________________________ |