|
|
|
|
|
AKSIE - BESKERM ONS MONUMENTE
Gedurende die afgelope jare het Boere-Afrikaners kennis geneem van
die aanslag op die kultuurgoedere van ons volk. Benewens die feit
dat die Afrikaanse taal vertrap en verneder word, is daar ook die
neiging om ons monumente te vernietig of minstens te skend tot haas
die onherkenbare.
Lees meer>> |
|
MOET DIE REDDINGSDAADFONDS HERLEEF?
(Uit die radiorede van Mnr Clem de Klerk, 9 Junie 2008)
........ Elkeen van ons hoor en sien wat is aan die gebeur in ons land. Die
ontstellende van alles is dat ons besig is om oor al die dinge te praat, ons
probeer selfs iets doen, maar ons doen dit geïsoleerd – elkeen op
sy eie, en die gevolg daarvan is minder suksesvol.
Drie jaar gelede het ek ’n pleidooi gelewer in hierdie selfde program,
om die daarstelling van eie strukture te begin sodat ons die al groter wordende
armblanke vraagstuk met woord en daad kan teenstaan. Nou het die probleem van
verarming van ons eie mense so groot geword dat dit selfs erger is as die armblanke
vraagstuk van die dertigerjare in die vorige eeu. Toe is die Reddingsdaad Fonds
gestig, en daaruit het vele nuwe strukture na vore gekom, want dit was die
bousteen om ons verarmdes met geleerdheid toe te rus om ons uiteindelik uit
die moeras op te tel.
En nou staan ek vanaand voor die Boere-Afrikanervolk – en ek lewer weer
hierdie pleidooi van drie jaar gelede. As ons nie nou gaan begin nie, dan sal
daar niemand wees wat kán begin nie – want ons volk sink weg in
verwaarlosing – ons volk se selfbeeld is besig om te kwyn, ons selfvertroue
maak dat ons soos slawe, dienswillig alles doen wat op selfvernietiging afstuur.
Radio Pretoria is verbind om in diens van ons volk te staan – en as
dit beteken dat ons ook moet meewerk om ons volk uit die moeras van verarming
op te hys, dan moet en kan ons nie terugdeins nie. In die weke wat voor is,
sal daar gesprek gevoer moet word met belanghebbendes in die ekonomiese wêreld,
en ek is van oordeel dat die gesprekke sal lei tot die daarstelling van eerste
strukture om hierdie ernstige probleem te omskep in ’n geleentheid.
Dit is goed en wel dat ons kos en klere aandra na ons verarmde volksgenote.
Maar vriende, dit is geen finale oplossing nie. Ons is nie net besig om ons
eie mense se selfbeeld verder te knou nie, ons is met ’n al groter wordende
probleem besig wat iets weerspieël van die spreekwoordelike elke dag ’n
vis, in plaas van ’n visstok.
Met ontsteltenis neem ek kennis van Afrikaanse kerke wat nou oor hulle voete
val om die sogenaamde slagoffers van vreemdelinge-haat te hulp te snel, terwyl
daar in dieselfde kerk honderde armblankes is wat vergete gelaat word. Dit
is tog onhoudbaar!
As u vir my sou vra hoe ek so ’n projek sou wil begin, dan is daar enkele
gedagtes wat onwillekeurig voorop staan.
Ons moet genoeg kundiges identifiseer – maar kundigheid tesame met ’n
onbesproke karakter is sekerlik die eerste vereiste.
Daardie kundiges moet byeen gebring word, elkeen met sy eie gedagtes, want
dit gaan nie oor kos en klere skenk nie, dit gaan hier oor die daarstelling
van strukture om ons verarmdes te help – te help met werk, te help om
hul menswaardigheid te herstel, te help met die geestelike heropbou van hulle
wat weggesink het weens so baie dinge wat verkeerd gegaan het.
Die vestiging van sulke strukture beteken dat ons, ja, u en ek, ons selftrots,
ons verhewenheid, ons hooghartigheid moet omsit in offervaardigheid. As ons
dan ’n ekonomiese struktuur of strukture moet vestig dan beteken dit
dat ons van elke luisteraar elke maand R10 moet kry om ons projek suksesvol
deur te voer.
Natuurlik moet ons sorg dra dat eerbare volksgenote aan die stuur van hierdie
Fonds moet staan – manne en vroue wat die nood van ons volk ken en verstaan,
wat oor jare hul lewens gegee het vir ons volk, wat met hul sterk Christelike
oortuigings die weg van eerlikheid ken en bewandel.
Ons kan vandag nog die saak red. Ons kan vandag nog met die middele tot ons
beskikking ons nood verlig – maar ons kan dalk te lank hiermee sloer,
en dan vir altyd te laat wees.
Ek herhaal wat ek vroeër gesê het: Hier staan ek voor u as mede
Boere-Afrikaner, en ek pleit by u om hierdie saak u erns te maak. Ons sal meganismes
in werking moet stel en wanneer die spitwerk gedoen is, u betrokkenheid te
ervaar.
Laat ons dan in die weke wat voor ons is, biddend hierdie saak aan ons Heer
opdra want Hy is beskikker oor ons lotgevalle. Nie ek of u wil eendag verantwoording
doen omdat ons hierdie nood gesien het, en soos die fariseër, ons kop
weggedraai het nie.
Daarom vra ek, dat wanneer ons in hierdie verband enige aankondiging sou maak,
dat u saam met my daarop sal reageer deur spontane ondersteuning te gee. Ek
glo vas dat ons ons eie mense moet help, maar ons moet nie net kos en water
en klere aandra nie, ons moet iets verrig van blywende aard – en om dit
te doen, beteken dat ons die volk se steun gaan nodig kry. As ons dan met hierdie
projek ’n tweede Reddingsdaad moet begin, dan doen ons dit omdat ons
Afrikaners is – Afrikaners met ’n Boerehart!
Mag ons dan met al die seëninge wat ons onverdiend geniet, so geïnspireer
word dat ons daarvan iets sal terug gee aan daardie deel van ons volk wat weens
baie redes, vandag in armoede vasgevang, moedeloos en magteloos voel, om hulle
weer te kan ophef tot dit wat ons weet reg en goed is.
Dankie vriende, vir u tyd en voorbidding.
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou -
Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer -
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer. |
Na bo
|
|
KULTUURWAARDES VAN DIE AFRIKANER
Vir elke volk in die wêreld is daar sekere kulturele waardes waaraan
vasgehou word – en daardie vaskleef aan bepaalde waardes hoef nie
vooraf neergeskryf te word om dit te bevestig nie. Dit ontwikkel en vestig
ongesiens in ’n volk.
Oor duisende jare het mense, veral binne volksverband, sekere norme
en standaarde gestel wat vasgegroei het om uiteindelik daardie volk se
lewens- en wêreldbeskouinge te bepaal. Met verloop van tyd verander
daardie beskouinge sonder om die aard en wese van die volk aan te tas.
So is dit dan ook met die Afrikanervolk. Sedert die volksplanting in
1652 met die koms van Jan van Riebeeck aan die Kaap de Goedehoop het
die eerste kultuurwaardes van die westerse beskawing gevestig op Afrika
bodem, veral toe Van Riebeeck die bekende Van Riebeeck Gelofte gedoen
het.
Dit was waarskynlik die eerste openbare daad van erkenning van die Almag
van ons Drie-enige God, wat oor meer as driehonderd en vyftig jaar sou
anker in die Afrikanervolk.
Die Groot Trek van 1838 was nie ’n trek om weg te kom van gesag
nie, maar juis om kultuurwaardes te beskerm en onreg te vermy. Die vryheidsdrang
van die Voortrekkers het midde-in dit alles sterker na vore gekom, maar
saam daarmee het die onwrikbare geloof in hul Skepper ook ’n dryfveer
geword om onder die onregverdige gesag van die Britse imperialisme te
ontkom.
Daar is voldoende gesaghebbende literatuur oor die feit dat die Afrikaner
ook Geloftevolk genoem kan word. Hierdie kultuurwaardes het nie op die
weg van die volk gekom omdat hulle dit so wou nie, dit het deel geword
vanweë die omstandighede waarin hulle ingedwing is.
Daardie waardes het uiteindelik aanleiding gegee tot ander waardes wat
so eie geword het aan die Volk. Die Gelofte van Bloedrivier is uit nood
gebore, maar dui ook op die diepe afhanklikheid van hul Skepper.
Soos wat braaivleis tot vandag waarskynlik die bekendste metode gebly
om vriende en familie te onthaal, so het Afrikaner nasionalisme sy staanplek
gevind in ons volk. Hierdie kultuurskat het egter sy oorsprong by ons
voorgeslagte wat geen ander wyse gehad het om hul vleisie voor te berei
nie. Ewe so het nasionalisme sterker geword vanweë die bedreigings
deur vyandelikes.
Hierdie, soms beskou as kleiner kultuurwaardes, moet nie in sy enkel
bestaan gemeet word nie, want daar is historiese feite wat aanleiding
gegee het tot die vestiging van waardes binne die volksbestaan.
Net soos die Gereformeerde Leer gevestig het binne die Afrikanervolk
vanweë die koms van Hugenoot en Geus, net so het die Romeins-Hollandse
regstelsel deel van ons volk geword. Kultuurwaardes kom immers tot uiting
in alles van die menswees binne volksverband. Norme en standaarde wat
aangepas word, gebeur nie oornag nie, maar word met tyd ingeweef in die
totale wese van volkskap.
Soos wat “God save the Queen” onlosmaaklik deel van die
Britse volk geword het, net so het die “Stem van Suid-Afrika” vasgeanker
in die Afrikanervolk. As die Franse volk ’n rede het waarom hulle
nie die Engelse taal besig in hulle land nie, dan is dit nie vir dieselfde
redes as wat dit vir die Boer van die ou Transvaalse Republiek was nie.
Die uitnemendheid van kultuurwaardes mag nie deur meerderhede geminag
of geïgnoreer word nie. Die kultuurwaardes van die Boesmans is vir
hulle kosbaar, en niemand het die reg om daardie waardes af te takel
nie. Vir dieselfde redes behoort die Afrikaner se kultuurwaardes gerespekteer
te word.
In die eeue wat wag, sal kultuurwaardes die bron van behoud wees vir
volke en nasies. Slegs enkelinge sweer dit af, verwerp dit en maak nuwe
waardes hul eie. Niemand kan kultuurwaardes vernietig nie – behalwe
deur volke uit te wis.
Die Afrikanervolk het dikwels uitwissing in die gesig gestaar. Kultuurwaardes
het weer die volk opgerig tot ordelike voortgang – ’n voortgang
wat die trots van ons volk sou aktiveer tot ’n moeisame heropbou
van ons volk. daarvan getuig die geskiedenis na afloop van Vrede van
Vereeniging.
Die toekoms sal bepaal tot watter mate die Afrikanervolk sy kultuurwaardes
sal handhaaf en uitbou. Die behoud van sy kultuurwaardes sal ook die
rigtingwyser wees vir sy voortbestaan.
Hoe moeilik dit ook al mag wees, en hiervan is die Baske seker die beste
voorbeeld: ’n Volk kan, met ’n yster wil, sonder grondgebied
voortbestaan, maar sonder sy kultuurwaardes sterf daardie volk
in sy volgende geslag.
Mag die Afrikanervolk sy geloof in die God van sy vaders behou en die
kultuurwaardes bewaar, dit koester en versterk in die wete dat dit ’n
anker is wat die adel in die Afrikaner behoue sal laat.
Ons land en taal, ons geloof en waardestelsel, ons Geloftes en ideale
maak ons onmiskenbaar Afrikaners wat ’n toekoms het in dié land
wat die Here God aan ons volk beskikbaar gestel het sodat Afrikaners
ook ’n holte vir die voet sal vind – want ons ideaal om weer ’n
vrye volk te wees, sal brandend wees solank ons Boere bly
Afrikaners, landgenote, weet dan dat die ideaal van volksvryheid slegs
werklikheid kan word deur die Heer se Genade. Bly getrou aan die Woord
van God, toegerus met die volle wapenuitrusting van God, sodat weerstand
gebied kan word op waardige wyse – om as ons dan ons eie vryheid
sou herwin, dit ook tot eer van die God van Bloedrivier sal wees.
Besturende Direkteur
Radio Pretoria
Na bo
|
|
DIE LIED VAN JONG SUID-AFRIKA
Woorde: EITEMAL; gewysig: P. MCLACHLAN
Musiek: HUGO GUTSCHE; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van 'n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.
Die klop van die Voortrekkerwawiel
het die eeue se rus verstoor;
die klank van die voorlaaierskote
het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
die bome het bewend gefluister:
Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika.
Waar songloed in glorie die berge
oor hul fronsende voorhoof streel,
waar ruisende wind oor die vlaktes
met grassaad kerjakker en speel,
die land wat ons vaders gekoop het,
met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika.
Die golwende veld is ons woning
en ons dak is die hemelblou;
die Vryheid alleen is ons koning,
sy wagwoord is: "Handhaaf en bou".
Die stryd wat ons vaders begin het
sal woed tot ons sterf of oorwin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika.
Na bo
|
|
TRANSVAALSE VOLKSLIED
Ken jy die Volk vol heldemoed
en tog so lank verkneg
Hy het geoffer goed en bloed
vir Vryheid en vir reg
Kom burgers ! laat die vlae wapper
Ons lyding is verby
Roem in die sege van onse dapp'res
'n Vrye volk is ons
'n Vrye volk
'n Vrye volk
'n Vrye, Vrye volk is ons
Ken jy die land so min bekend
en tog so heerlik skoon
Waar die natuur haar wonders skenk
en kwistig stel ten toon
Transvalers ! Laat ons feeslied galm
waar vas ons volk moet staan
waar onse vreugdeskote g'knalt
Daar is ons vaderland
'n Heerlik land
'n Heerlik land
Dit is, Dit is ons vaderland
Ken jy die staat, nog maar 'n kind
in wêrelds statery
maar tog deur magtig Brits bewind
weleer verklaar as vry
Transvalers ! edel was ons strewe
en pynlik onse smaad
maar God wat uitkoms het gegewe
sy lof vir eie staat
loof onse God !
loof onse God !
loof onse God vir land en staat !

Klik op figuur vir groter beeld
Na bo
|
|
VRYSTAATSE VOLKSLIED
Woorde: H.A.L. HAMELBERG
Musiek: W.F.G. NICOLAI; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1976
Heft, Burgers, 't lied der vrijheid aan
en zingt ons eigen volksbestaan!
Van vreemde banden vrij,
bekleedt ons klein gemenebest,
op orde, wet en recht gevest,
rang in der Staten rij,
rang in der Staten rij.
Al heeft ons land een klein begin,
wij gaan met moed de toekomst in,
het oog op God gericht,
Die niet beschaamt wie op Hem bouwt,
op Hem als op een burcht vertrouwt,
Die voor geen stormen zwicht,
Die voor geen stormen zwicht.
Zie in genà en liefde neêr
op onze President, o Heer!
Wees Gij zijn toeverlaat!
De taak, die op zijn schouders rust,
vervulle hij met trouw en lust
tot heil van volk en staat!
Tot heil van volk en staat!
Bescherm, o God, de Raad van 't land,
geleid hem aan Uw vaderhand,
verlicht hem van omhoog,
opdat zijn werk geheiligd zij
en vaderland en burgerij
ten zegen strekken moog'!
Ten zegen strekken moog'!
Heil, driewerf heil de dierb're Staat,
het Volk, de President, de Raad!
Ja, bloei' naar ons gezang
de Vrijstaat en zijn burgerij,
in deugden groot, van smetten vrij,
nog tal van eeuwen lang!
Nog tal van eeuwen lang!

Klik op figuur vir groter beeld
Klik vir groter beeld
Na bo |
|
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van
ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vêr-verlate vlaktes met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe - ons vir jou Suid-Afrika.
In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel
en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf –
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland! Ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners - kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer, in ons winternag se
kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,
By die klink van huw’liks-klokkies, by die kluitklap op die
kis –
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd
ja:
Om te lewe, om te sterwe - ja, ons kom, Suid-Afrika.
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer –
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

Klik op figuur vir groter beeld

Na bo |
|
VLAGLIED
Woorde: C.J. LANGENHOVEN
Musiek: F.J. JOUBERT
Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
die pand van ons erf'nis, geslag op geslag,
om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
die vlag van ons eie Suid-Afrika.
Na bo
|
|
| |
|
|
|