WENKE VIR BETER ONTVANGS – RADIO PRETORIA

U kan op verskillende metodes luister na die uitsendings van Radio Pretoria

INTERNET UITSENDINGS
Om na Radio Pretoria te luister op die internet is heel eenvoudig. As jy oor ’n hoëspoed internet-lyn beskik, is dit die ideale toestand. Dit is feitlik gratis en die klank is uitstekend. As jy nie oor ’n ADSL lyn beskik nie, word dit aansienlik duurder in Suid-Afrika.

Deesdae kan die nuwe selfone wat internet fasiliteite bied, ook gebruik word om na Radio Pretoria te luister – maar dit het natuurlik ’n koste element.

Per internet gaan jy na die webtuiste van Radio Pretoria by www.radiopretoria.co.za – klik op die blokkie en stel die klank hard genoeg!

SATELLIETSKOTTEL LUISTERAARS
Die tweede metode is per DSTV skottel. Hierdie diens is reeds jare lank beskikbaar. Indien enige persoon van hierdie diens wil gebruik maak kan hulle die inligting by ons kantoor aanvra oor hoe om hul TV in te stel om na Radio Pretoria se klanke te luister.

Die aanwysings is ook op ons webtuiste beskikbaar vir diegene wat oor internet beskik. En luisteraars moet kennis neem van die voordeel van hierdie stelsel – daar is baie selde onderbrekings, die klank is uitstekend en die ontvangs word selde beïnvloed, behalwe as dit swaar bewolk is. En u hoef nie die duur DSTV kanaal-opsies te koop nie.

GEWONE RADIO ONTVANGS
Derdens is daar ons gewone radio uitsendings met aard herleistasies. Dit is nou die gewone stelsel waar u bv. 104,2 Mhz instel op u radio.

Neem kennis dat die hedendaagse huis-radio ook digitaal beskikbaar is, en hul ontvangs is oor die algemeen baie goed – die toestel is ook nie so duur nie.

Eerstens: Verleng die radio se lugdraad met ’n stuk gladde-draad tot naby die plafon. Dit is nog meer effektief indien ’n ou motorradio se lugdraad gebruik word om die dra-radio se lugdraad te verleng (sien ook dipool hieronder).

Tweedens: U kan ’n lang stuk elektriese draad gebruik. Koppel die een punt daarvan stewig aan die radio se lugdraad en die ander punt op die hoogste plek op die huis se dak – soos bv. aan die TV antenna.

Derdens: Indien jy oor ’n ou motorradio beskik wat nog goed werk, kan die radio gebruik word deur net ’n krag vermindering-sok wat 230 volt na 12 volt verminder, daaraan te koppel. ’n Motor radio lewer ’n beter ontvangs as die meeste dra-radiostelle en stel gevolglik makliker in op ’n bepaalde stasie. Natuurlik moet jy sorg dat daar een of meer luidsprekers aan die motorradio gekoppel word, en dit is goed om een luidspreker selfs in die slaapkamer aan te bring – en ’n mens kan ’n skakelaar konnekteer vir as dit slaaptyd word.

Vierdens: As dit alles nie veel help nie, is daar nog ’n moontlikheid – koop ’n  radio antenna, installeer dit op die huis se dak en koppel die stelsel met die radio antenna – maar  maak eers seker dat daar wel ’n sein is.

Hoe bepaal u of daar ’n sein is?
Die maklikste is om die motor se radio as toets te gebruik. As die motor se radio langs die huis ontvangs bied, is dit byna seker dat daar in die huis ’n sein is. Daar is ontvangs, maar die sein is of te swak, of die radio is van die modelle wat ’n uitstekende klank het, maar die ontvanger-deel is minder doeltreffend.

Koop van ’n radio
Die handelaar moet verstaan wat u behoefte is – dit is om Radio Pretoria op te vang in u huis.
- Hy moet dus bereid wees om die toestel beskikbaar te stel sodat u dit eers gaan toets.
- Alternatiewelik moet hy bereid wees om u geld terug te betaal as die toestel nie aan
        die vereiste voldoen nie.

Onthou:
-           Verduidelik aan die handelaar en gee redes waarom u dalk die toestel gaan terug bring.
-           Menige handelaar sal aanbied dat dit daar in die winkel getoets word – dit is alles goed en wel, maar wat nou gemaak as die ontvangs nie goed genoeg by die woonhuis is nie. So, u dring daarop aan dat dit omruilbaar, of terugbetaalbaar is, of eers geleen moet word.

Ons hoop dat die betrokke wenke vir menige luisteraar sal help om beter ontvangs te verseker.

DIPOOLLUGDRAAD

Ons weet dat daar dooie kolle is waar radio-uitsendings of baie swak is of glad nie ontvang word nie. Sulke dooie kolle bestaan ook in huise en geboue en daarom moet die mees geskikte plek vir die radio se antenna gesoek word.
’n Baie eenvoudige en goedkoop  antenna wat vinnig gemaak kan word is die dipoolantenna wat 2 bene het..

Gebruik enige lengte van die gewone elektriese draad met 2 are (Engels flex). Trek die 2 are aan die een end uitmekaar totdat elke been 72 cm is. Moenie die plastiese issolasie omhulsel verwyder nie. Aan die ander end van die draad maak ongeveer 15 mm  skoon om die koperdraad aan die ontvanger se antenna vebindingspunte vas te maak. Op hoë-trou stelle word hierdie 2 hegpunte aangedui met die letters “FM”

Nadat die 2 koperdrade aan elke verbindingspunt op die radio verbind is, plak die twee bene van die ander end vertikaal  teen die muur so hoog as moontlik. Verander die plek teen die muur totdat die beste ontvangs verkry is. Dit mag ’n bietjie soek verg voordat die beste plek gevind is. ’n Buite antenna sal beter wees as die binne antenna nie voldoende sein oplewer nie.
Sien die tekening hieronder.

 

 

OPGESTEL IN BELANG VAN DIE LUISTERAARS VAN RADIO PRETORIA